Hoërskool Nelspruit Revue 2024

Help ons om ons jaarlikse revue onvergeetlik te maak!
Elke jaar bring Hoërskool Nelspruit ‘n asemrowende revue op die planke wat soveel vreugde, aan baie mense bring deur dat emosies met passie en kreatiwiteit gedeel word. Sonder voldoende finansies is dit wel ‘n groot uitdaging om dit te volhou. Daarom vra ons julle hulp. Deur ‘n borg te wees, word julle deel van die span wat wonderlike stories tot lewe bring. Julle sal ook deel wees van ons opwindende bekendstellings. Dit gaan nie bloot oor geld nie, dit gaan oor die ontwikkeling van potensiaal, uitleef van talente en die impak op ons jeug se toekoms.

Vriende van die Revue: Ambassadeur 2024
Dr. Inge van Dyk
Inge Visser het in Malelane grootgeword. Sy was hoofdogter van Laerskool Malelane in 2003 en daarna ‘n trotse inwoner van Huis Maré te Hoërskool Nelspruit. Sy het vir 3 jaar in die revue gedans en was kaptein van Mambas se 2de hokkiespan. Sy was die laaste hoofmeisie van NHS wat ook ‘n gangprefek in Huis Maré kon wees. Inge was regdeur haar hoërskool jare op die Top 10-akademie gewees. Sy het ook die hoof se toekening in matriek ontvang.
Inge het medies gaan studeer op Tukkies en daarna internskap by Rob Ferreira Hospitaal gedoen. Haar Gemeenskapsdiens het sy by die weermag voltooi. Sy is die afelope 5 jaar ‘n mediese praktisyn by Nelmed Medicross in Nelspruit. Sy het ook verder gestudeer en haar diploma in estetiese medisyne voltooi. Inge spesialiseer in gewigsverlies en verouderingsbehandeling.
Sy is getroud met ‘n oud-Nellie, Hilma Visser, wat saam met haar in matriek was. Die liefde het eers vlamgevat toe hy as werkende ingenieur sy vinger beseer het en ‘n gratis konsultasie by ‘n ou skoolvriendin ontvang het. Albei, Hilma en Inge, is trotse oud-revue lede en opgewonde om die revue te help om nog baie jare die hele Laeveld te betower met uitmuntende musiek en dans!
Revue span

Ezette Mans
Produksiebestuurder

Hené Pieters
Vriende van die Revue

Chantelle Vermaak
Kostuums en administrasie

Henré Bornman
direkteur

Johan Ferreira
ingenieur
Jy kan help om NHS se jaarlikse revue onvergeetlik en onverganklik te maak!
Ons het jou hulp nodig om ons jaarlikse revue optrede moontlik te maak. Jou bydrae sal help om noodsaaklike uitgawes soos musiekproduksie, kostuumontwerp, beligting en rekwisiete te dek asook die verblyf van ons professionale span.
Belangrik, jou ondersteuning kan die finansiële druk van diegene wat dit nie kan bekostig nie, verlig. Elke jaar is daar kinders se ouers wat nie die kostuumrekeninge van gemiddeld R3,750.00 per persoon kan betaal nie en u ondersteuning sal ‘n direkte impak op hulle lewens maak.
Saam kan ons ‘n onvergeetlike ervaring vir ons jong kunstenaars skep. Oorweeg asseblief om ‘n borg te wees.

Voorsitter van die Beheerliggaam
Vir my as Pa van vier kinders wat revue-deelnemers was vanaf 2012 tot 2023 (12 jaar) was die revue sekerlik jaar na jaar die hoogtepunt vir ons kinders.
Hulle het dit as “next level” beleef en die energie huis toe gebring. NHS-revue het my kinders laat leef! Hulle het vir revue geleef.
Ek is ewig dankbaar vir die mense wat hulle vandag is, as gevolg van die blootstelling, ontwikkeling en uitleef van hul talente wat die revue hul gebied het.
Hoekom Vriende van die Revue stig:
Ons gemeenskap ervaar finansiële druk en dit is duur om ‘n kind aan die revue te laat deelneem. Die revue plaas ook potensiële druk op die NHS-begroting. Ek tree uit by NHS na nege jaar op die beheerliggaam en na dertien jaar as ouer… Die revue het soveel vir my kinders en hulle maats beteken, daarom glo ek dat dit finansieel toeganklik vir elke kind moet wees – die las moet ligter op die skool en die ouers wees, daarom wil ons oud-revuelede betrek asook borge uit die gemeenskap om talentvolle kinders se drome waar te maak en hulle ook die nodige blootstelling te kan bied.
Daan de Kock
Brief van die Produksiebestuurder
Liewe Revue-entoesiaste,
Dit is met onmeetlike trots en dankbaarheid dat ek besin oor die ongelooflike reis waarop ons oor die afgelope tien jaar saam aangepak het. Ons revue was ‘n arbeid van liefde, ‘n viering van talent en ‘n getuigskrif van die vasberade gees van ons gemeenskap. Terwyl ons bymekaar kom om hierdie mylpaal te gedenk, laat ons die herinneringe wat ons geskep het, die vriendskappe wat ons gesmee het en die magie wat ons op en van die verhoog af, gedeel het, koester. Baie dankie vir julle onwrikbare ondersteuning en toewyding. Hier is vir die volgende hoofstuk in ons revue se roemryke geskiedenis!
Ezette Mans
